Home | Site Index | Contact | About | Legal | Links

Meanwhile # 1 | October 2003
Cover | Index | Edit Note | Articles | Illustrations

Previous Page | Next Page

Wat is die tyd?

Beste Redakteur,

Ek hoop nie ek is te laat nie ook dat hierdie laat poging die uitsondering op die reël sal wees. Ek het besluit om in Afrikaans te skryf ten spyte van my power spelling en moontlike talle anglesismis. As jy besluit die kort relaas is die moeite werd om te publiseer sal dit 'n goeie proeflees en korreksies benodig.

Ek hoop jy het hope materiaal om van te kies en kan nie wag om die resultate te sien nie. Jy sal maar 'n paar kopieë moet aanstuur.

Die artikel se titel is : Wat is die tyd?

Cheers Thomas

Jy weet die lewe is 'n onmoontlike ding om te beskryf. Vat nou maar die konsep van tyd, die ou gesegde lui dat dit vir niemand stil staan nie, maar ek verskil. Ek dink tyd speel met ons. Dit hardloop vir ons weg as ons dit probeer jaag, en dit kom tot 'n trae stilstand wanneer jy dit vinnig wil laat verby skiet. En dit is slinks genoeg om meeste van ons te laat voel of die tyd wat ons het die moeite werd is. Ek wonder soms of tyd nie die instrument is waardeur ons maker ons omgewing manipuleer om ons die nodige kanse te gee sodat ons onsself beter kan leer ken. Dan kan jy miskien verstaan hoekom sekere gelowe en tradisies klem lê daarop dat jy jou tyd wys moet gebruik sodat jy die prys kan wen van ewig-tyd.

Ek het 'n soliede staal Rolex horlosie persent gekry by 'n familie vriend wat aan ongeneesbare kanker gely het. Hy het nie 'n seun of klein seun gehad om die horlosie te erf nie en ek dink hy het dit vir my gegee omdat ek selfs as 'n pas gekwalifiseerde dokter geweet het dat hy nie lank oor gehad het om te lewe nie, en ek het dit vir hom reguit vertel. Hy het vir homself 'n battery aangedrewe Swatch gekoop en vir my gesê sy doel is om die battery te probeer oorleef. Ek dink nie hy het gevoel hy staan 'n kans teen die tydbeproefde Rolex, wat solank as wat jy jou arm beweeg outomaties opwen en sal aanhou loop tot 'n paar dae nadat jy gestop het. Die horlosie was gebou om die stryd te wen.

Dit is snaaks maar om dit te dra gee jou werklik die gevoel dat jy geboei is aan tyd. Natuurlik het tyd ons ook nodig want sonder ons beteken tyd niks nie.

Omstrent 'n jaar gelede het ek allergies begin raak vir tyd. Ek het 'n uitslag gekry op my voorarm waar ek die horlosie gedra het. Dit het my gepas om dit te sien as 'n teken en ek het opgehou om 'n horlosie te dra.

My lewe het in subtiele maniere verander. Ek vra mense nou die tyd en is gefassineerd deur hulle antwoorde. Vir party is dit 'amper twaalf-uur', vir ander "agt minute voor twaalf". Ek wonder soms of mense dink hulle het meer tyd tot hulle beskikking as hulle elke minuut tel. Ek jaag ook nou minder teen tyd. As ek êrens heen reis vertrek ek op 'n sekere tyd maar ek kyk nie gereeld of die verkeer my laat maak nie. Miskien is dit maar net Afrika-tyd wat in my geplant is as 'n kind in Suid-Afrika wat nou ontkiem.

Dit bring my by 'n interessante observasie wat ek onlangs tot my verbasing gemaak het. Ek woon al vir 'n geruime tyd in die Vereenigde Koninkryk en het behalwe vir my ou Suid-Afrikaanse vriende, ook nuwe jong afrikaanse Suid-Afrikaanse vriende gemaak. Wat my so verbaas het is die wyses waarop hulle verskil van hulle Britse tydsgenote. Die verskil is nie die opvallende aksente en kleredrag nie, maar die ongetwyfelde Afrika ritme en rustigheid wat ongehinderd deel is van hulle karakter. Die europese blanke het miskien ten doel gehad om Afrika te tem, maar ek dink die europeers is nou getem, dit was net 'n kwesie van tyd.

Dit bring my terug by die tyd. Die joodse esoteries tradisie bekend as Kabbala beskryf dat tyd slegs in ons menslike ondervinding in 'n liniêre patroon beweeg. Dit is dus van geen belang of iets 'n uur gelede of 'n duisend jaar gelede gebeur het nie, maar slegs dat ons dit al reeds ondervind het. Die toekoms is slegs dit wat ons nog nie beleef het nie, al het dit dalk reeds plaas gevind.

Wat met ons gebeur aan die einde van ons tyd is slegs spekulasie, wat ons doen terwyl ons wag vir die einde is alom bekend as in the MEANWHILE.

--------------------------------------------------------------------------------

Do you Moo!?
The New Moo! Shopping - with improved product search

© MEANWHILE

To the top | Previous Page | Next Page