Home | Site Index | Contact | About | Legal | Links

Meanwhile # 1 | October 2003
Cover | Index | Edit Note | Articles | Illustrations

Previous Page | Next Page

Roadtrip 2

Die Cheeta Coach and Airport Transfer Company™ se busse is groot. Daar is toilette op die bus, maar daar word geen verversings bedien nie. Daar is wel 'n stewardess, en twee drywers, maar hulle bedien nie verversings nie. Dit vat 22 uur om van Pretoria na Oudtshoorn te ry, maar die stewardess deel geen verversings uit nie.

Daar is lugversorging op die bus, en dis altyd te koud gestel, so onthou tog om 'n trui te vat, of 'n sneeuparka. Hulle sal nie vir jou ‘n kombers gee nie. Ook nie verversings nie.

Die bus stop gedurig langs die pad in klein dorpies om nog mense op te laai. Waar hulle stop om mense op te laai, kan jy afklim om 'n burger of 'n Coke te koop by die plaaslike take-away, want hulle bedien nie verversings op die bus nie. Mens moet vinnig maak, want ek hoor hulle het al weggery vir dié wat nog in die ry gestaan het om te betaal vir hulle aankope, nadat die drywer twee keer op die bus se toeter geblaas het. Onthou ook om 'n persoonlike besitting op jou sitplek te los, anders kom jy terug, en jy is nie meer honger of dors nie, maar jy het het nie meer ‘n sitplek nie. Of in elk geval nie die een wat jy wil hê, of voorheen gehad het nie.

Ek ry in die Cheeta Coach and Airport Transfer Company™ se bus, op pad na Oudshoorn.

Na 16 uur se eentonige ry en stop ry en stop ry en stop, is daar skielik die geskree van bande op teer. Die bus swaai woes (in perfekte slomotion) van die een kant na die ander, en na ‘n baie harde slag kom ons uiteindelik tot stilstand.

Die kinders wat nie reeds gekerm, gehuil of geskreeu het nie, begin dadelik 'n keel opsit. Sommige van die volwassenes maak ook geluide, en een het selfs begin bid. Dis die ou met die regop hare, tattoos en oorbelle. Ek verwonder my aan die Onmiddellike Bekering wat ek eerstehands waarneem – hy sal seker nooit weer ‘n Iron Maiden t-shirt dra nie.

Die drywers klim uit. Sommige insittendes (die wat nie whiplash het nie), klim uit om te rook of bene te rek. Ek los my balaclava op die sitplek, en klim uit om te hoor wat de fok aan die gang is. Ek hoor Drywer Nommer Een vertel dat hy probeer uitswaai het vir 'n skaap.

'n Paar van ons stap terug na waar die rook steeds trek uit die rubberstrepe op die teer. Ek loop en sweet, en ek kry warm, want ek dra ‘n trui in die middel van die somer in die Karoo.

Langs een van die rokende strepe gewaar ek die platste skaap wat ek nog ooit gesien het – wel, ek dink dit was 'n skaap. Nou val dit in die breër kategorie beter bekend as roadkill. Ek wil naar word toe ek al die bloed en binnegoed sien.

As ek ge-eet het, het ek sekerlik opgegooi, maar my maag is leeg want ek was bang die bus ry vir my weg terwyl ek wag om vir my kos te betaal, en daar word geen verversings op die bus bedien nie.

© MEANWHILE

To the top | Previous Page | Next Page