Home | Site Index | Contact | About | Legal | Links | Discussions

Meanwhile # 2 | April 2004
Cover | Index | Edit Note | Articles | Illustrations

Previous Page | Next Page
...........................................................................................................................................

Ek sien hulle elke dag by stopstrate en verkeersligte. Bedelaars met kartonborde gehang om hul nekke wat hulle aftrek en nog patetieser laat lyk. Hulle bedel vir geld om die kinders by die huis of die hongergeit op hul mage te bevredig. Hulle het lankal geleer dat jy oogkontak met jou potensieële skenker in sy luukse kar moet maak om sy weerstand te kan toets. Motoriste op hul beurt poog weer om oogkontak ten alle koste te vermy. Stop die motor anderkant die man, maak of jy diep denkend voor jou uitstaar, onbewus van wat om jou aangaan of bekruip die verkeerslig stadig met die hoop dat die lig na groen sal oorslaan en jy nie by die man se lot betrek hoef te word nie. Verkeersligte gee jou nog ‘n kans om ongesiens verby te ry. By stopstrate het jy die kans waar jy net flugtig hoef te stop en dan weg te jaag. Almal belangrike oorlewings maatreëls vir die hedendaagse motoris. Maar al kry jy jou sin by hierdie straathoek, is daar altyd ‘n volgende een.

Die man kyk stip na jou. Eintlik wil jy hom nie ‘n sent gee nie, hoekom moet jy? Maar dit lyk of hierdie ou heeltyd gaan aanhou karring. In ‘n land soos Suid-Afrika kan mens ook lankal nie eers meer die hoekom-kry-jy-nie-‘n-werk-en-hou-op-bedel?-kaart gebruik nie. Vasgevang in jou kar, gee jy hom iets. Hy sê dankie terwyl hy kyk hoe groot die munt is wat jy uit jou asbakkie gekrap het. Hy beweeg na die kar langs jou en dadelik voel jy hy dink jy kon meer afgestaan het. Net om weer by die volgende straathoek deur dieselfde sielkundige marteling gesit te word. Om en om. Dis ‘n speletjie wat nooit ophou of gewen kan word nie. As dit nie die vrou met die vel wat te veel blootstelling aan die son gehad het nie, is dit die man met die 6 kinders wat skoolklere moet kry as jy net gou-gou wil inglip vir brood en melk. Ons is selfs nie meer veilig in ons BBR-security, konsentrasiekampdraad-omheinde huise waaroor ons so heilig is nie. Mense is daagliks op die voorstoep met lang stories om ons kort geduld te beproef. Geen ontsnap via ‘n groen lig hier nie. Die maklikste uitweg is maar om te gaan kyk of daar nie ‘n hemp of paar skoene is wat sò 2001 is, dat jy dit in elkgeval nooit weer gaan dra nie - behalwe as jy in die tuin werk of jou kamer ‘n nuwe skakering van banana-yellow liggeel wil verf.

Wat om van dit alles te maak ? Meeste mense wat iets het, het hard gewerk daarvoor. Om elke liewe dag vroeg op te staan en heeldag lank chaos te moet uitsorteer net om te kan oorleef tot die volgende naweek terwyl jy êrens moet probeer studeer vir ‘n ekstra graad waarsonder jy nie veel van ‘n toekoms het nie, is gewis nie maklik nie. Of dit enigsins makliker is om êrens in ‘n sink-shack in die gitswart oggendure te moet opstaan, ‘n koue basin te vat, die grondpaadjie na die naaste taxi-rank te vat om ‘n geleentheid na die suburbs te kry waar jy van ander se oorvloed moet bedel, is ook te betwyfel. Ongelukkig kan hierdie artikel jou nie ‘n wonder-oplossing bied wat dit vir jou makliker gaan maak in die ewige Motoris Vs Bedelaar-stand off nie. Inteendeel, die feit dat jy herinner is dat hy ok maar net iemand is wat probeer oorleef in ‘n land met 35% werkloosheid, kan dalk net jou hart ‘n graad of twee sagter maak en jou self meer weerloos laat in die oorlog teen die gevreesde bedelaar.

Wilhelm Kuys

© MEANWHILE

To the top | Previous Page | Next Page