Home | Site Index | Contact | About | Legal | Links | Discussions

Meanwhile # 2 | April 2004
Cover | Index | Edit Note | Articles | Illustrations

Previous Page | Next Page
...........................................................................................................................................

Omdat die son stadig besig is om te sak oor die alluviale vlakte van Laingsburg, sit ek dadelik my sweisbril op toe ek die hotel binnestap.

In die dameskroeg heers daar algehele verlatenheid.

Ek besluit om ‘n rukkie te vertoef, en vra vir die kroegman ‘n dubbel whisky en soda terwyl ek gaan sit en twee marshmallows uit my beursie haal om te betaal vir die Castle Draft wat hy binne twee punt vyf sekondes voor my neersit.

Die Lugwaardin skaats rustig nader en in ‘n oogwink rangskik sy my kleingeld in ‘n halwe sirkel om my tafel: ‘n smurf, ‘n Jellytot™, en ‘n gorilla (Gorilla gorilla). Drank is lekker goedkoop hier, dink ek terwyl ek wonder of die klein geelpers pilletjies wat ek drink vir my angsaanvalle dalk verantwoordelik is vir die snaakse gevoel van déjà vu.

‘n Dwergie, geklee in ‘n helder khaki sweetpak draf luiters onder my stoel deur en stop skielik om ‘n sigaret op te steek, voor hy my op die maermerrie skop. Dadelik bring Die Lugwaardin ‘n bakkie droë ys om die swelsel te verlig, en nadat ek na haar advies geluister het besluit ek om nog ‘n pilletjie te drink vir die pyn.

Jy’s nie van hier nie, is jy? vra my gorilla en knip stadig vir my oog. Nee, antwoord ek, ek is ‘n vreemdeling in ‘n vreemde situasie in ‘n vreemde land -soek jy dalk ‘n pilletjie?

Die lugwaardin bring ‘n glasie water vir my gorilla om sy pilletjie te sluk, en buk dan stadig vooroor om in my oor te fluister. Wil jy dalk losbandige seks hê?, vra sy saggies.
Met wie? antwoord ek - terwyl ek lugtig loer na die dwergie en die gorilla.
Met my, sê die Lugwaardin, en begin dan stadig die klam duikpak van haar lyf afskil op die maat van ‘n ou Nana Mouskouri liedjie.

In ‘n ewige oomblik word haar liggaam blootgelê - die volle glorie daarvan geklee in slegs ‘n miniskule neon-groen bikini waarvan die broekie versier is met ‘n prentjie van ‘n Suid Amerikaanse boompaddatjie (Hylidae) wat pas by die tattoeërmerk op haar heup.

Ons vat hande, en sy lei my na die kamer met die vier deure op die hotel se boonste vloer. Saam sluit ons Deur 227 oop, en in die sitkamer met die groot visbak voer ons eers die walvisse (Mysticetae) voor ek op die sand waar die golwe breek, haar bikini versigtig met my tande afskeur.

Met die tweede sonsopkoms besoek die Vriendin Van Die Lugwaardin ons in die paradys. Sy trek self haar klere uit, voordat sy nader stap om te help bou aan ons reuse sandkasteel. Ek weet sonder om te kyk dat die prentjie van die pandabeertjie (Procyonidae) op haar blou bikini, ‘n bypassende maatjie van kleurvolle ink sal hê op haar heup.

Met die derde sonsopkoms word die laaste toring van ons kasteel voltooi. Reeds voordat ek My Lugwaardin en Ons Vriendin begin groet, word ek gevul met heimwee en verlange na dit wat nooit teruggebring of herhaal kan word nie. Terwyl ek die foto van ons kasteel wat heeltyd verander onder my hoed bêre, voel ek steeds die koel hitte van hulle soene wat vir ewig ‘n gat in my siel sal brand. In die dameskroeg klim ek op my gorilla, en galop dan links in die hoofstraat af terwyl ek stadig wuif vir die skimme van 104 drenkelinge wat met groot sorg palmtakke voor my neerlê om sodoende seker te maak ek volg die regte pad in my ewige soektog na nog ’n gelukkige toekoms.

Vir meer oor Laingsburg gaan na http://www.heritage.org.za/karoo/laing.htm

© MEANWHILE

To the top | Previous Page | Next Page