Dit is Saterdagmiddag 5:15 pm, 5 km buitekant Middelburg, Mpumalanga. Die stofwolk kan al van vér af al gesien word, soos dit elke eerste naweek van die maand teen die wil van die Hoëveld briesie stadig agter die HOTRODS die lug in styg.

Daar het 'n klomp toeskouers vir die eerste wedren van die jaar opgedaag en die verskeidenheid van renmotors en toeskouers is indrukwekkend. "Dit is harde werk om dié wedren elke vier weke aan te bied" vertel die organiseerder se vrou, Wilma. Tussen al die renjaers, toeskouers, marshals, kosstalletjies, son, stof en "joernaliste" kry sy nie eers tyd om by die familie, wat vir die naweek deurgekom het, te kuier nie.

"MOTORSPORT IS GEVAARLIK" lees die uithangbordjies langs die baan. Dit klink miskien van selfsprekend, maar die oorverdowende geraas wat die motors maak soos hulle om en om die "Oval Dirt Track" jaag is meer skrikwekkend as wat die bordjies impliseer.

Agter in die "pits" is daar gedurige verkeer met die jaers wat mekaar vervang soos die dag verby versnel. Mense soos Gys, die track marshall, (wat al vir jare die beampte is en 'n groot voorliefde vir die sport het, al het hy sy been 20 jaar terug in 'n HOTROD ongeluk verloor) het hulle hande vol.

Vandag is hier ongeveer 35 motors ingeskryf wat in ses klasse opgedeel word. Die dag begin met die Fuellers, dan volg die Supers (hoof foto, bo), 1600's, 2 liters, V8's, Ninjas en Go-Karts.

Die 1600's word as die mees kompeterende klas beskou en Mpumalanga het verlede jaar sy eie Nasionale kampioen opgelewer in die vorm van Piet Pieterse wat 'n 1600 City Golf bestuur.

Die Fuellers is die self opgeboude motors wat die groot drukvlerk op die dak het, die V8's is die groot menere en die Ninjas is die onder 18 klas terwyl Go-carts natuurlik die heel eerste trap in die HOTROD hiërargie is.

Die lengte van die baan varieer van ongeveer 350 tot 400 meter in lengte en die top spoed is tot 130 km/h vir die groter motors.

In hierdie area neem jaers vanaf Rustenburg tot in Nelspruit teen mekaar deel, maar kompeteer dan ook in die "Nationals" wat in April in Oudtshoorn plaasvind.

Henk Esterhuizen

Hou die pers dop vir jou lokale "Oval Dirt Track" resies. Vir meer inligting oor "HOTRODS" in Suid Afrika besoek www.motorsport.co.za.

HOTROD vs Dragster