"Espresso of Cuppachino?" ruk die waiter my terug in realiteit in. My 2m staar smelt weg en ek settle maar vir die espresso. Shit, kan ek nie maar in daai wêreld leef nie, of moet dit as 'n idealistiese droom, my inspirasie bly...?

Ek sit hier in 'n hoofstraat koffieshop en versamel al my gedagtes van dié wêreld slegtes, benoudes, desperates, almal briljant! Terwyl ek voorgee om die Maandagmiddag koffiebreek saam met my baas te geniet, hy betaal after all.

"Bla bla" kom die verbale diaree van die oorkant van die tafel af. Seker weer een of ander scheem van hom. "Verseker, ek dink ook so" beaam ek, na so half sekond se stilte.
Eish ... waaroor praat die man nou weer?
Ek's nie altyd 'n moerse fan van tegnologie nie, maar ek was lanklaas so bly om my Nokia 3310 te hoor lui. Die perfekte alibi. Ek verskoon myself en loop staan om die hoek en antwoord.

"Gys, jy's gestuur soos 'n nurse met 'n bottel whiskey, Bra!
Hoelykit?"
"Nee goed, wil jy gaan klim?"
Hah, die beste ding wat ek in 'n lang tyd gehoor het, wel sedert gister, toe ons ook gaan klim het.
"Fo-sho, sien jou oor 'n halfuur."

Mmm, dis nou als goed en wel, maar wat maak ek met hierdie man wat vir my koffie koop? Dilema? 'n Ou klein wit leuntjie, dis al. Hy't my al genoeg gebruik in die naam van werk om dié een te regverdig, dit is tog 'n prioriteit, oorreed ek myself. Wat maak dit so lekker, letterlik soos 'n dwelm. Die fokus? Die angs? Die sweet? Die uitdaging? Die reward? Die ekstase? Ek kan nog lank daaroor filosofeer maar first things first!

"Hoor hierso Mark, daar het iets by die huis gebeur, dit was die polisie en dit klink nogal ernstig. Hulle sê daar was 'n inbraak of iets. Ek sal dadelik daar moet uitkom!"
Soos 'n honger vis val hy vir die aas, en sonder om weer te sit is ek daar weg.
"Ha Ha, jou vark, dit was vir laas Vrydag toe jy my maak werk het tot nege uur in die aand!" mompel in die hardloop oppad kar toe. Ek moet onthou om vanaand vir Gys 'n yskoue bier te koop, of sommer 'n paar.

Ek's verlos, ek's vry en ek's oppad. Ek's oppad maar waarheen en hoekom? Wat maak dit so befok om te klim? Ek dink (gestroop van al die fisiese stigma daar rondom) is dit my kans om te ontsnap en te connect. Te connect met die natuur en die stilte in my kop. Om alle energie en fokus wat ek het, op een doel te konsentreer, en met net dit wat ek het verder te beweeg. Om vir selfs net 'n oomblik so gefokus te wees dat als behalwe my onmiddelike omgewing net so goed soos non-existant kan wees.
Want dit is wat ek kort in hierdie concrete jungle wat ons elke dag speen : stilte. Die plek maak geraas in ons ore en in ons koppe. So ontsnapping is noodsaaklik vir voortbestaan.
My ontsnapping, my muti van keuse is KLIP!!