heel onder / to the bottom | terug na MEANWHILE / back to MEANWHILE
Previous Page | Next Page

 
 

VERBAN TANDESTOKKIES
VANDAG!!!



‘n Kunstenaars voorstelling van die slagting van derduisende olywe wêreldwyd gisteraand (bo).

Daar sal ernstig gedink moet word oor die nasionale verbanning van tandestokkies om gebeure
soos hierdie permanent uit die samelwing te verwyder. Meer hieroor by www.meanwhile.co.za.

 
Brief uit Barak 6


Barak 6, Kompanie 3, Vlug 7, Vyfde Eskader, Derde Peloton, Negende Bataljon, Geheime Detensie Barakke, HaraKiri

17 Maart 1986

Die Hoofbevelvoerder en Generaal
Negende Bataljon
Ou Kaapstad

My Generaal,

DETENSIE, STRAFDRIL EN MOONTLIKE KRYGSVERHOOR: ONDER-KORPORAAL J-H Le B AGGENBACH (OOK IN DIE SIVIELE LEWE EN AAN SY MA BEKEND AS BROEKIES)

Die brief skryf ek aan u as opregte en laaste noodkreed, en om tot u basiese menslikheid te appelleer ten einde 'n einde te maak aan wat ligweg as 'n ondraaglike situasie beskryf kan word. Bykomend tot genoemde noodkreet wil ek ook u aandag vestig op 'n flagrante minagting van basiese menseregte, en om in die algemeen boonop 'n redelik onverdraagsame houding deur die Militêre Polisie jeens 'n bietjie plesier onder u aandag te bring. U is -of mag dalk nie -bewus (wees) van die feite rondom die saak, en die gebeurtenisse wat gelei het tot my tragiese disposisie nie, en daarom skryf ek hierdie brief ten einde dinge in perspektief te stel.

Vir die van ons wat slegs twee jaar in die mag hoef te spandeer, is daar ‘n algemene tekort aan vermaak en goeie tye hier op HaraKiri. Vir die plaasjapies is dit kennelik nie ‘n probleem nie, maar vir die Jo’burg jollers (en sophisticated types soos ek vanaf Durbs) is die daaglikse lewe hier op HaraKiri omtrent so interesting soos ‘n donkiekarwedren tydens ‘n kerk kermis op Caledon. Soos u weet is die naaste dorp etlike kilometers weg, en die plaaslike kerke se sukses op die vlak van die verkondiging van die Woord het tot gevolg dat min tot geen van die jong dames op die dorp sal instem tot selfs ‘n onskuldige handvashou of piksoentjie. Nie eers die trompoppies van die plaaslike Engelse skool is tegemoedkomend nie. Vandaar die heel onsarkastiese bynaam vir ons basis: kak-en-HaraKiri. Die manne slaan hier dus gewoonlik maar meestal hand aan eie as. Soos u uself moontlik kan indink, raak dit vir almal soms net te veel - die toilette word vir lang periodes beset, en van die manskappe (soos byvoorbeeld onderkannonier Sakkie DP Le Grange) skeer al twee keer 'n week hulle palms. Die sluikhandel in tweedehandse Scopes, Tessa, Saal 10 en Wit Tier boekies - en veel meer ontstellend ook die Bollie - is wel besig om van my ‘n ryk man te maak, maar ek voel tog jammer vir van die minder bevoorregte manne wat so goedsmoeds hulle soldy oorhandig in die najaag van ‘n vlietende plesier. Maar dis nie net ‘n bron van kommer en stres vir my as persoon nie. Generaal, die Mag se mediese fonds kan nie aanhou om brille met sterker lense aan die G2K1’s en die res van die dik voorarm bende te voorsien nie - die implikasies vir die verdedigingsbegroting is myns insiens fenomenaal, en selfs potensieël katastrofaal van aard. U sien dus ek dra duidelik die belange van die manskappe sowel as ons mag naby my hart.

Ewenwel, ten einde ‘n bietjie vermaak aan die manskappe te voorsien wat nie harige palms, kolle op my Bollies, en swak oë tot gevolg sou hê nie, het die selfaangestelde feeskomitee (ek) besluit om 'n kombinasie fondsinsameling-bymekaarkomsessie-sokkiejol (genaamd “Hoera vir HaraKiri”) te reël en sodoende: a) fondse in te samel vir ‘n kossubsidie en die aanstelling van sub-kontrakteurs vir die kombuis; b) seker te maak die jong dames van die plaaslike omgewing kan vir so effens langer aan hulle maagdelikheid vasklou, en; d) seker te maak onderkannonier Le Grange en ander spandeer nie al hulle soldy aan Gillette Mark III lemmetjies vir hulle palms nie.

In die beplanningsfase van “Hoera vir HaraKiri” het ek vir geen oomblik gedink die gevolge van so ‘n betreklike klein opskoppie by die menasie sou so verreikend van aard wees nie. Ek moes seker geweet het die invoer van wulpse, luidrugtige, middeljarige ontkleedanseresse sou die militêre polisie dwars in die krop steek, maar u moet besef my niggie Jean-Louise en haar voormalige mede-kelnerinne het dit maar redelik dun sederd die Truly Deeply Lonely Roadhouse & Drive-in op Koekenaap toegemaak het etlike maande gelede. Dit was bloot uit die goedheid van my hart, en die gepaardgaande ware empatie met die swaarkry van 'n baie geliefde familielid, wat my genoop het om die voorstel van ‘n baie smaakvolle striptease aan die feeskomitee ter tafel te stel. Mag ek ook dadelik byvoeg dat die voorstel dan ook eenparig deur die komitee goedgekeur is met dank aan die betrokke lid vir sy harde werk en visie.

Dit is duidelik dat die klagtes van ontug en koppelary wat teen my gelê is, heeltemal misplaas is in terme van wie eintlik verantwoordelik was vir genoemde aktiwiteite. Kan ek byvoeg dat alle aantuigings dat geld van hande verwissel het, van alle waarheid ontbloot is. In hierdie verband, laat my dus net toe om te noem dat luitenant Du Toit (staandemag) ten tye van die gewraakte insident (en in u, die kaptein en die majoor se afwesigheid) die offisier in bevel op die basis was. Ek neem aan u is vertroud met die luitenant se welbekende kredo - wat hy tot vervelens toe land en sand verkondig aan wie ookal ongelukkig genoeg is om homself binne hoorafstand te bevind - dat niks op hierdie basis sy “arendsoë en heldersiende gawe vir die uitsnuffel van jippo en kakaanjaag” ontwyk nie. Almal weet dus dat niks op hierdie basis gebeur sonder sy medewete of goedkeuring nie, en ek is seker ek hoef daarom nie verder op die punt van verantwoordelikheid uit te brei nie. In teenstelling met die getuienis gelewer deur luitenant Du Toit (staandemag) gedurende my voorlopige verskyning voor die krygsraad, is ek ‘n man wat verantwoordelikheid aanvaar vir alle misdrywe wat teen my bewys kan word. Ek is nie ‘n man wat die blaam voor die deur van ‘n ander sal lê, tensy hy (of sy) dit nie totaal verdien nie, en tussen my en jou my generaal, geen doos verdien die blaam meer as luitenant Du Toit (staandemag) nie.


Ek wil myself nie verlaag deur te daal na die vlak van klikbek nie, maar ek is seker u is lank reeds bewus van die vieslike stories wat die hele kamp vol lê ten opsigte van die seksuele voorkeure van u jongste seun Dawie. Dis met ware wroeging in my hart dat ek vandag aan u onthul dat die oorsprong van die skandelike skinderstories niemand anders as luitenant Du Toit (staandemag) is nie. Ek laat dit daar vir u om self te besluit wie u ondersteuning in hierdie heksejag verdien (ek), en wie sonder twyfel vir die wolwe gegooi behoort te word (ek en u weet wie).

Vervolgens wil ek sê dat die verslag aan u voorgelê ten opsigte van die klag van brandstigting heeltemal uit verband geruk is, en boonop deurweek is van halwe waarhede en blatante wanvoorstellings. Dit is wel so dat daar baie gerook is, (ook nie net tabak nie - maar dit sê ek van die rekord af), maar ek het myself op geen stadium skuldig gemaak aan die brandende Sambuca drinkery en die oplek van tequila van telke oppervlaktes (insluitende die ontblote liggaamsdele van die lieflike dames) nie. Dit is wel so dat die menasie afgebrand het, maar ek voeg dadelik by dat ek deur persoonlike braafheid eiehandig die eskader se vaandel gered het uit die see van vlamme. (Die einste vaandel wat oorgedra word van bevelvoerder na bevelvoerder van hierdie basis sedert die vroë negentienhonderds. Soos u weet is die waarde van die vaandel in monetêre terme semi-fokoll, maar ek is seker die sentimentele waarde wat ons almal daaraan heg maak daarvan vir u (en ons) ‘n pryslose skat.) Ek aanvaar wel verantwoordelikheid vir die idee om Jean-Louise se bra en g-string op seremoniële wyse aan die brand te steek ten tye van die “fully nude” gedeelte van die aand se program, maar die feit behoort in die gees van die oomblik gesien te word. Weereens moet ek noem dat luitenant Du Toit (staandemag) regstreeks verantwoordelik was vir my gebrek aan konsentrasie ten tye van die insident, aangesien ek uit die hoek van my oog bespeur het hoe hy sy lende teen my niggie se skaamte probeer skuur op die maat van die musiek. Die aantuiging dat ek een van die Negende Bataljon se vlamwerpers gebruik het om genoemde kledingstukkies (en dan ook by implikasie die menasie) aan die brand te steek, is 'n absolute en infame leun.

Ek wil dit onomwonde stel dat ek NOOIT die Negende Bataljon se apparaat in gevaar sou stel nie, en dat ek boonop geen inkriminerende forensiese leidrade sou nalaat nie. Kan ek u dus vertroulik meedeel dat ek die Derde Bataljon se vlamwerper vir die geleentheid geleen het, bloot as voorsorgmaatreël teen enige onvoorsiene gebeurtenisse. Ek is vol vertroue dat nadere ondersoek sonder enige twyfel sal bepaal dat dit luitenant Du Toit (staandemag) se handtekening en magsnommer is wat verskyn in die kaserneregister van die Derde Bataljon se “VLAMWERPERS:” blasy, in die “UIGETEKEN DEUR:” kolom. My neef Johnny “Shorty” Dippenaar, kasernemeester in die Derde Bataljon sal u kan bystaan met enige navrae.

Dit is my beskeie mening dat sulke lojaliteit en voorsorg beloon behoort te word, en dit is dus sonder enige skaamte dat ek vra dat u na 'n manier kyk om hierdie klagtes teen my ter syde gestel te kry, al is dit dan ten koste van die duidelik homofobiese en agterbakse luitenant Du Toit (staandemag) se toekoms as beroepsoldaat. Ek kan dalk net noem dat u moet onthou dat die Derde Bataljon se Eerse XV vroeër hierdie jaar vir die agtste keer in 'n ry ons rugbyspan afgeransel het ten tye van die sport dag, en dat Generaal Koekemoer reeds sy kas Ierse whiskey uit u persoonlike kelder hier op die basis kom haal het. Die whiskey is hardhandig verwyder, en skutter Hennie Brits se oogbank is met 'n besemstok oopgekloof toe hy Generaal Koekemoer en die hele voorry van die Derde Bataljon toegang tot genoemde geheime kelder probeer weier het. Dit is ook met misnoë dat ek aan u moet openbaar dat die skinderstorie rakende luitenant Du Toit (staandemag) wat vrye en ongehinderde toegang aan die Derde bataljon se R-voertuig verleen het, die heilige waarheid is. My neef Johnny de Waal, wat ten tye van die whiskey diefstal aan diens was by die sperhefboom, kan verdere besonderhede veskaf, sou u dit so verkies. Die verspreiding van die whiskey onder die manskappe van die Derde Bataljon, en die gevolglike vlaag van onverklaarbare ongewenste swangeskappe op die dorp was in my opinie dus ook op ‘n manier luitenant Du Toit (staandemag) se skuld, alhoewel hy dalk nie regstreeks verantwoordlik vir onderhoud gehou sal word deur enige hof nie.

Ek maak goeie vriende hier in die DB, en die poker-aande wat ek reël verseker ‘n betroubare inkoste vir die dag as ek uitklaar, maar ek moet tog noem dat ek die vryheid van my naweek pas erg mis. Die stryd duur voort. My Generaal, as leier oor etlike honderd glo ek dat u wysheid sal openbaar in hierdie aangeleentheid, en dat u wel op ‘n manier my vryheid en onskuldigbevinding voor die krygsraad sal help bewerkstellig. Die manne van die Negende Bataljon moet saamstaan, en swak soldate - soos luitenant Du Toit (staandemag) - moet met wortel en tak uitgeroei word. Ek sal u ewig dankbaar wees as u uself oor my sal ontferm, en ek sal op my beurt my bes doen om te vergeet van die insident tussen uself en die kaptein se vrou, Bokkie Vermaas, die keer toe Mevrou Generaal op vakansie was in Hermanus, en ek as u persoonlike drywer en lyfwag diens gedoen het vir die week.

Ek bly ewig paraat.

Die uwe Jan-Hendrik Le Beauff Aggenbach
(Broekies)